Dit is 'n groot jammer dat min mense met duidelike herinneringe van die verlede eintlik die lus het om, wat hulle onthou van die persoonlikhede en plekke, die gewoontes en gebeure van hulle jonger dae, op skrif te stel. Baie waardevolle en belangrike feite het vir die nageslag verlore gegaan as gevolg van die terughoudendheid van mense wat maar net te beskeie was in hul denke dat wat hulle te vertelle sou hê, van minder belang sou wees vir diegene wat ná hulle sou kom.
So af en toe, wanneer daardie terughoudendheid 'n bietjie onderdruk word en daar word na aksie oorgegaan, en 'n gawe om stories te vertel met 'n kombinasie van manier van uitdrukking en lewendige beskrywing tevoorskyn kom, word mens getrakteer op 'n samestelling van herinneringe en gebeure van die hoogste gehalte, en moontlik ook 'n tikkie patos.
Baie van die vertellinge in hierdie samestelling van stories en verhale is aan my bekend, met die gevolg dat my herinnering daarvan ook geprikkel is en ek dit weer met persoonlike genot kon meelewe. Ander storietjies weer, is aan my oorvertel en nou dat ek dit op skrif teëkom is dit asof ek al vantevore deel daarvan was.
Magnus en ek is swaers en ek ken hom al meer as 60 jaar as 'n man wat graag 'n paar geskiedkundige feite heel interessant kan voorlê, meestal met 'n kwinkslag in die vertelling daarvan. Op die gebied van gesonde grappies vertel is hy alreeds lankal aan die voorpunt. Hoe sal hy dan nie al die ou stories vanaf Vaatjie se dae tot vandag, vir ons hier vaslê nie?
In hierdie welkome samestelling bekoor hy ons met die manier waarop hy, miskien vir 'n tydjie van 'n te korte duur, vir ons terugvoer om die rustige ou dae van ouds te herleef. Lede van die familie sal by my aansluit in 'n gevoel van dankbaarheid teenoor hom wat met sy eie individuele geselserige manier van skrywe, die moeite en onkoste oor die loop van 'n hele paar jaar aangegaan het om alles wat hy in die hande kon kry en wat hy as oorvertellenswaardig beskou, bymekaar te maak en in een boek saam te stel.
Dit was vir my aangenaam om deel te kon hê in die daarstelling van hierdie boek.
KUILSRIVIER FJC (Stokkies) BESTER