My dank aan broerskind Christa Coetzee van Douglas vir haar skriftelike pleidooi van toetertyd vir die daarstelling van 'n soort blywende opgawe van die betreklik klein Schietekat familie en hul doen en late oor die dekades heen en 'n storietjie of twee hier en daar oor wat in die verlede gebeur het…
Dankie aan skoonsus Corrie, dogters Eileen en Christa en die kleinkinders, vir hulle gesamentlike bydrae oor hulle pa en oupa Peter (John Bull) Schietekat. Kort en bondig verneem ons watter soort mens hy eintlik was.
Aan my suster Louis Bester van Kuilsrivier, vir haar voortgesette belangstelling en haar duidelike herinnerings van groot en klein gebeure, in hierdie poging van my om 'n storietjie of twee aangaande die Schietekat familie, oorspronklik van Vaatjie, Philadelphia op skrif vas te lê en sodoende aan die jonger en opkomende geslagte 'n kykie te gee in wat alles in die goeie ou dae aangevang was en al die gebeure en petaljes van daardie tyd.
Ook is ek dankbaar vir die ure wat sy spandeer het, om gewillig of teen haar sin, vir my die vele aparte artikels hardop voor te lees en krities na elke faset van iedere storietjie of staaltjie te kyk en waar nodig opbouende kommentaar te lewer en verdere aanvullings voor te stel. Aan my liewe ouer suster Daphne van Wyk van Port Elizabeth vir haar bydrae, op die ouderdom van amper 80 jaar, oor die gebeurtenisse en snaaksighede wat op die plaas tussen die jare 1925 en 1930 afgespeel het en die kinders se private losies- en skoolondervindinge op Philadelphia.
Aan my ou swaer Stokkies Bester bly ek verskuldig vir sy taalaanvoeling waarmee hy pynlik deursettend en deeglik al my getik moes deurworstel om tekortkominge en foute, klein en groot, uit te lig. Nadat wysigings aangebring is, het hy algaandeweg geïnteresseerd die hele geskrif vir 'n tweede maal, en waar nodig, vir 'n derde maal, nagegaan. Sonder sy vermoë om grammatikale foute op 'n afstand te bespeur, sou dit maar plek-plek baie moeilik gegaan en teen 'n slakkepas gevorder het. Ek bly dankbaar.
Aan my liewe niggie ou Spekkies, Margaret Elizabeth, 'n ware weduweeskruik van gegewens en inligting uit die goeie ou dae, bly ek ewig verskuldig vir die hope data wat sy so vriendelik en vrolik op 'n gereelde basis aan my oor die telefoon, sommer so uit die vuis, oorgedra het. Ter eniger tyd kon ek bel om navraag te doen. Ek was nooit met 'n verskoning weggewys, of versoek om op 'n meer geleë tyd terug te bel nie.
Ek bedank ook my niggie Roelene vir haar hulp en bystand. En laaste, maar nie die minste nie, ook my dank aan skoondogter Genéne van Durbanville vir die hantering van al die meegaande foto's, sketse, uitknipsels en spotprentjies waaraan sy soveel Dinsdagaande spandeer het om iedere kiekie, artikel of skets presies op sy spesifieke plek te plaas.
BELLVILLE MAGNUS